Op 'n soektog

Dis amper skoolvakansie – van die ligte in die Voëlklip-strandhuise in Hermanus brand reeds. Maar Swartskaap voel ‘n veer daarvoor.

“Ons moes beter beplan het,” sê hy bekommerd vir Posmeester, soos hulle deur die donker lane wandel.

“Ek het ‘n plan, Swartskaap,” sê Posmeester. “Byt net vas.”

En ‘n oomblik later: “Eina!”

“Sorrie,” sê Swartskaap. “Jou trisep was die naaste ding waaraan ek kon vasbyt.”

Posmeester sug en vryf sy bo-arm. Dan, skielik, steek Posmeester sy regterhand ferm in die lug – soos ‘n rugby-skeidsregter wat ‘n vryskop aandui. “Daar,” sê hy.

Swartskaap tuur na die nederige kothuis met die groengeverfde hortjies van hout. “Jy bedoel, dis waar die pragtige wese woon? Hoe het jy dit uitgewerk?”

Posmeester glimlag. “Jy het daai koevert ordentlik opgeskeur, maar ‘n Posmeester het sy weë … en sy kontakte.”

Hy knik na agter. Asof vanuit nêrens verskyn ‘n groep inwoners vanuit die enkele vissermanshuisies wat nog in die buurt staan.

“Klop! Klop! Klop!” dreunsing die klein skare.

Swartskaap krap onwillekeurig agter sy nek. “Jislaaik. Julle gaan my laat bloos soos … wel … Bloos.”

Hy giggel vir sy grappie, maar die res kyk hom bloot paaiend aan. Swartskaap kug en sug – hy het duidelik nie ‘n keuse nie.

Hy stap skepties na die kothuis se voordeur … en klop.

Sekondes gaan verby. Dan minute.

Swartskaap draai na Posmeester. “Sien jy nou! Ons moes beplan-”

Hy word onderbreek wanneer die voordeur oopswaai. Daar – met nat in haar lang hare wat oor die kraag van haar japon krul – staan sy.

Vir ‘n ewigdurende splitsekonde kyk hulle in mekaar se oë. En dan soen hulle.

Die klein skare juig, maar Posmeester draai om. “Net nog ‘n dag vir ‘n Posmeester. Ek word elders ook benodig.”

So wandel hy die donkerte in – tevrede en doelgerig.

  

 


← Older Post Newer Post →